Kontak ons by | Contact us at nalize.boshoff@gmail.com

ONS STORIE

Waar kom TjommE met SommE vandaan?

TjommE met SommE is die eindproduk van ‘n lang pad van ervaring opdoen en groot drome droom om te kom tot die punt in ‘n mens se lewe waar jou insette ‘n noemenswaardige verskil kan maak. Skoolhou by laerskole, hoërskole en tersiêre instansies, gepaard met navorsing vanuit BAIE onderrigmateriaal, het ‘n breë fondasie geskep waaruit hierdie program gebore kon word.

Die program is ontwikkel deur Nalize Boshoff. Haar liefde vir Wiskunde en vir die kinders vir wie sy dit moet maklik maak, is die bron van sin in haar lewe. Sy moes in ‘n stadium erken dat daar te min ure in haar dag oorgebly het om by almal uit te kom vir wie sy graag self sou wou klasgee en vandaar die oplossing: lei ander op om dieselfde te doen.

Die program en lesse is ontwikkel om feitlik al die konsepte in die skoolsillabus te dek en dit te sinkroniseer met CAPS en sover moontlik met die skole en hulle onderskeie voorkeur van volgorde waarvolgens hulle werk. Ons leerders verstaan wat hulle doen en kan hulself Wiskundig korrek verwoord – hulle geniet die klasse en leer elke keer iets nuuts.

Die Tjomme-span word selektief saamgestel en elkeen wat deel vorm van die program vind hul passie daarin om leerders se lewens te verryk – lees meer oor die span hier.

Wat maak ons uniek?

By TjommE met SommE is ons van mening dat elke kind KAN; elke kind het die potensiaal om ‘n gemakliker greep op Wiskunde te kry. Ons fokus daarop dat elke kind eers verstaan en daarna herhaal. Ons wil hê ons TjommE moet mal word oor Wiskunde.

By TjommE met SommE glo ons dat elke kind wat ons teëkom se behoeftes effektief aangespreek moet word. Ons wenresep word toegeskryf aan die kwaliteit van ons onderrig en die passie van ons span. Daarmee saam is die program gepas vir enige kind en bied ons individuele lesse sowel as kleingroepe met ‘n maksimum van 10 kinders.

Ons streef daarna om Wiskunde vir elke kind te ontsluit – hul passie aan te wakker en die vak prakties, kreatief en verstaanbaar te maak sodat hulle dit geniet en waardeer. Ekstra klasse word aangebied deur ons bekwame tutors, elkeen opgelei om ‘n verskil te maak.

Vir wie is TjommE met SommE?

Verrykingsklasse

Hierdie klasse word aangebied vir die presteerders: die slimkoppe wat reeds BAIE goed presteer en ekstra stimulasie sal waardeer (tipies die outjies wat 80%-90% kry).

Onderpresteerders

Hierdie klasse is ontwikkel vir die wat beter kan doen – die gemiddeldes, vir wie ‘n klein bietjie esktra moeite ‘n groot verskil kan maak. Dit is gewoonlik vir die outjies met baie potensiaal wat so bietjie lui is en baie buitemuurse aktiwiteite het en nie by genoegsame oefen van Wiskunde uitkom nie dan raak hulle agter.

Outjies wat stoei

Vir hulle wat dink Wiskunde is aaklig omdat hulle regtig sukkel en omdat hulle bietjie langer vat om te verstaan as meeste ander kinders.