Parkhurst
Graad 4 – Graad 9
Ek het my loopbaan begin deur Dieetkunde in Bloemfontein te studeer. Daarna het ek Johannesburg toe verhuis, waar ek as sagtewareprogrammeerder gewerk het, hoofsaaklik in die casino-industrie. Benewens programmering het ek ook betrokke geraak by werwing (recruitment) en as ’n vryskut-grafiese ontwerper gewerk.
Vir 21 jaar het ek my rol as voltydse ma vir my dogter met toewyding vervul. In hierdie tyd het ek myself besig gehou en verder toegerus met verskeie kreatiewe vaardighede soos kuns en handwerk, naaldwerk (insluitend patroonontwerp en -sny), asook bak en kook.
Na my egskeiding het ek besluit om terug te keer na my oorspronklike droom en onderwys by AROS te studeer. Ek het gespesialiseer in Wiskunde, Wetenskappe, Tale en Bybel. Reeds van kleins af, vanaf die ouderdom van vier, wou ek ’n onderwyser, dominee of non word. Destyds was dit nie moontlik vir vroue om predikante te wees nie, en my ma het my ontmoedig om die onderwysberoep te volg. Daarom het ek aanvanklik Dieetkunde gekies. Maar die lewe het intussen sy eie pad geloop, en uiteindelik het ek tog my ware roeping gevolg.
Ek het ’n groot passie vir kinders én vir bejaardes. My lewensfilosofie is dat elke kind met die regte begeleiding Wiskunde kán doen – ons moet net leer om die patrone raak te sien. Vir my is dit ’n voorreg om deel te wees van die Tjomme-groep: wat kan lekkerder wees as om heeldag somme te doen en dit met kinders te kombineer?